DIE GROOT DEBAT(-TE)

debat

Kies maar ‘n onderwerp – geloof, politiek, sport, kulturtele identiteit, taal, opvoeding, misdaad en korrupsie, internasionale betrekkinge, militêre missies in Midde Afrika – en sonder ‘n oorwoë gesoek sal teenstrydige standpunte uitgelok word . Boonop sal daardie uiteenlopende standpunte so heftig aangevoer en verdedig word, dat die betekenis van “debat” geheel en al verlore gaan aangesien die subjektiewe (en dikwels emosionele) eie-opinie teen wil en dank moet seëvier.

So heeltemaal anders as toe ons op hoërskool standpunt oor geslagsgemengde skole al dan nie, die behoud imperiale of implimentering van desimale stelsels, provinsialisme se voor- en nadele, moet Rhodesië ‘n vyfde provinsie word of nie en diesulke temas moes inneem en geordend daaroor gedebateer het. Want toe was daar reëls.

Nou is die verskille feller. Die tyd self het ons omstandighede so gelouter dat ons hedendaagse debatte veel dieper as net die oppervlakte van persepsuele gewaande opinie sny.

As prof Lina Spies te kenne gee dat sy die NG Kerk verlaat, zoem die briewekolomme in die dagpers. Maar interessanter as die briewe se strekkings, is die kommentare wat deur mense wat intelligenter wil voorkom, onder aan die betrokke berig of brief bygevoeg word. Die debat tussen kommentators is dikwels feller as die steun of teenstand met die brief- of berigskrywer. Net soos bloggers en die FB’ers en die Twieters, is die kommentators ‘n gedugte spulletjie wat dag vir dag hul oor-bekende standpunte inneem en te velde trek teen diegene wie se insig volgens die eiewyse oordeel ver te kort skiet.

Daagliks maak ek my draai tussen die elektroniese mediaberigte en meeste van die tyd neem ek in die verbygaan ook die opinies van bloggers, FB’ers, Twieters en die selfaangestelde kommentators in want ook daarin word soms stof tot nadenke opgespoor.

Soos onlangs toe ek toevallig moes ontdek dat ‘n kuberkennis met wie ek sonder enige agterdog goed oor die weg gekom het, beginselstandpunte handhaaf wat direk en indringend met my diepste oortuiging in konflik is. Is ‘n debat dan die logiese uitweg? Dit wat die Skrif ons nog altyd voorhou as die Christelike weg?

Vir iemand anders sou dit seker die aangewese optrede gewees het, maar te midde van my groeiende oortuiging dat die debatskuns sy waarde sowel as sy essensie verloor het, het ek die eietydse elektroniese weg gevolg – die “delete” sleutel is gebruik om die waarskynlikheid van onversoenbare verskil uit die weg te ruim. Die “friend”-status is summier gekanselleer.

Finis.

Ek moet dalk meer toepassing vir die “delete”-sleutel soek.

17 thoughts on “DIE GROOT DEBAT(-TE)

  1. Ons neem nie sterk genoeg standpunt in oor ons virtuele vriendskappe nie. Waarom is ek bekommerd oor ‘n virtuele vriend se gevoelens, met wie ek in die werklike lewe nie sosiaal sou verkeer nie?

  2. ek het ook so “kennis” waaroor ek voel dat ons paaie met ‘n doel my pad gekruis het. Hy het my egter so stelselmatig afgesweer. 😀

    • Dit gebeur seker maar. Veral as jy die woord “afgesweer” gebruik want dit dui op ‘n beplande wegbeweeg.

    • Miskien sien baie van hulle juis lank vooor die tyd raak dat die ys dun word en soek dan rede vir konflik – al is dit dan met ‘n draai

  3. Ek vat baie lank voor ek iemand delete, selfs in die werklike lewe. Ek gee tweede en derde en soms tot tiende kanse. Tot op ‘n dag. Dan hou daardie persoon op om vir my te bestaan. Daar is geen haat of wraakgevoelens nie. Daar is net NIKS. Die mense in my lewe kan hul moeilik vereensekwig met daardie eienskap in my.

    • Klink of jy ‘n “70 x 7” mens is.

      Maar as ‘n mens bewus word van ‘n prinsipiële verskil (al was dit nie noodwendig vroeër sigbaar nie, of al het dit voorheen nie gepla nie) dan trek ‘n mens makliker ‘n streep.

      Ek kry dit nogal reg om dit heel klinies te doen – emosieloos en kil.

  4. Ja, ek lees omtrent nooit daai kommentare onderaan berigte nie – kan nie dink wie het soveel tyd om te sit en baklei soos kinders nie. Wat ook nogal soms vir my interessant is, is waaroor jy “mag” debatteer en waaroor nie (politiese korrektheid). So stel ‘n vriend in die vermaaklikheidswereld onlangs op FB voor dat die k-woord ge-reclaim moet word en gebruik moet word om te verwys na alle korrupte politici in hierdie land, wit of swart, hede en verlede. O hemel. Hy is omtrent verguis, en net omdat hy aan hierdie betrokke heilige koei wou peuter. Dit mag nie. Nie in ZA nie.

    • Ek vermoed daardie kommentators is ‘n faset van die samelewing wat inderdaad as ‘n “sub-spesie” geklassifiseer kan word. Dalk gaan dit oor die een wat dieselfde ding die meeste kere oor en oor sê of wat iets oor alles te sê het…… want daar is mos eintlik nie ‘n verskil nie?

      Heilige koeie is nie om dowe neute heilig nie.

      Miskien is dit belangriker om te kyk wie sorg vir die “heilige stralekrans”. Baie keer is dit self iemand wat agter die muur van skynheilige “heiligheid” skuil.

Lewer kommentaar