dôtzhiehoudôtdzedhei

Miskien moet ek hierdie een gaan haal in Augustus 2008 toe ek elders melding gemaak het van die tannietjie met die roesrooi gekleurde hare wat Sondag vir Sondag die sitplek langs die paadjie regoor die sydeur-ingang van die kerk beset. Dan sit sy daar met haar klein lyfie styf gedruk teen die bank se kant, die tranedruppel oorbrabbetjies wat glinster in die oggendlig as sy almal wat binnekom van bo na onder deurkyk en wanneer iemand by haar verby wil skuif, die wenbroue hoog bokant die goueraambrilletjie se borand lig. So half verontwaardig dat sy op haar sitplek gesteur word.

Sondae kyk ek van my sitplek in die middel van die kerkbank so twee rye agter haar, na haar roesrooi hare, die kopvelletjie wat hier en daar tussen die yl kapseltjie deurskyn En die geligte wenkbroue as sy die mense wat by haar verbyskuif met ‘n trek van ongeduld agternakyk. Dan kan ek nie help om self so effense galsterige smakie in my mond te kry nie, maar ek troos my daaraan dat die effense galsterigheid maar bra oppervlakkig en eintlik van nul en gener waarde is nie.

Vir diegene wat so graag ‘n e-posadres met ‘n voorspelbare “……dôtzhiehoudôtdzedhei” eindig, openbaar ek dalk ‘n graad of meer grimmigheid. Ek kan nie verstaan dat mense nie “…..punt c o punt z a” kan sê nie. Maar net soos my jong domineetjie wat elke derde Sondag sy preek met Engelse clichès inkleur omdat hy heel waarskynlik dink dat dit is hoe ‘n mens deesdae moet praat, aanvaar ek ook maar by voorbaat dat sommige mense bitter graag byderwets en / of eietyds wil klink.

My kwasterigheid met sulke mense is ‘n graad of wat nader aan die rooi as wat dit is met die tannietjie Sondae in die kerk langs die paadjie en haar yl roesrooi haartjies wat opsigtelik nie by die plooie bokant haar wenkbroue of in haar nek pas nie.

Nog ‘n kerf of twee, drie hoër is die roekelose besete bestuurders in die oggend se spitsverkeer wat nie ‘n snars omgee vir die Reëls van die Pad nie en binne enkele minute daarin slaag om ander reisigers se eens rustige rit te omskep in ‘n ervaring wat wonderbaarlik nie ernstige skade, beserings of lewensverlies tot gevolg hê. In sulke gevalle vloek ek soos ‘n gesoute matroos en hoef ander toekykers nie noodwendig lipleesspesialiste te wees om te snap watter woorde soos bitter pypoliedruppels binne my motor vol venyn teen die voorruit tot ‘n fyn damp verpletter nie.

‘n Man kan seker maar oor die regte redes omgekrap raak.

Maar die toppunt van vandag se omgekrapheid was die eindresultaat van twee ander mense se onvergenoegdheid met mekaar wat tot gevolg het dat ek, die onbetrokke derde party, die spit moet afbyt en ‘n opoffering moet maak wat beslis nie ‘n vrywillige toegewing is nie. Dan word die stand van sake boonop as ‘n direksiebesluit van die hoogaangeskrewe buite-instansie beskryf in ‘n oppervlakkige poging om aanspreeklikheid te ontsnap.

Dit is dàn wanneer my eie eenmandireksie ook ‘n besluit neem – ‘n besluit wat ‘n toevallige aanhoorder dalk later as “oorhaastig” kan beskryf, maar wat, soos ek myself ken, sonder kompromitering gehandhaaf sal word. Al kom wat, dààr sit ek my voete nie weer nie.

IMG_1679 (640x480)

Die troufoto? Dis by daardie plek waar die sand nie weer aan my skoensole sal klou nie………..

Maar ek moet darem sê dat toe ek die afgelope Sondag my plek in die kerkbanke inneem, moes ek tot my verbasing opmerk dat die Tannietjie langs die paadjie se eens roesrooi hare nou ‘n eenvormige natuurlike grys is. Dis ook al asof die plooie in haar net dieper en meer opvallend was as twee weke gelede. Asof sy heelwat ouer lyk. Miskien het sy vrede met haarself gemaak.

Dalk breek my beurt ook eersdaags aan.

OMDOP UURGLAS

My ma het so ‘n uurglasie in haar kombuis gehad wat haar gehelp het om te weet wanneer die eiers gekook was. Wanneer die uurglas leegeloop het, kon sy hom op sy eie assie omdraai om die volgende ses minute af te meet. As jy niks anders gehad het om te doen nie, het die ses minute soos ses ure gevoel, maar as iets anders jou aandag afgelei het, was blou gekookte eiers die voorland.

dvb

In my argiewe blaai ek tussen die fotos van ‘n besoek aan Frankryk gedurende Julie 1966 toe ons die vyftigste herdenking van die Slag van Delvillebos meegemaak het. Benewens die erewag en die orkes, het ‘n aantal oudgediendes wat op hul dag deel van die Eerste Wêreldoorlog was (met enkeles wat persoonlik by die Slag van delvillebos betrokke was) die besoek meegemaak. Ek onthou maar alte goed hoe ons om die ou omies met hul blink medaljes maar dowwe oë saamgedrom en aan hulle lippe gehang het as hulle hul ervarings van ‘n halfeeu gelede met ons gedeel het.

Uit die spreekwoordelike perde se bekke het ons eerstehands van ‘n oorlog wat deur verskriklike slagtings gekenmerk was, gehoor.

Op drie jaar na, is dit nou bykans alweer ‘n halfeeu later en die omies van destyds is lankal vir hoër diens opgeroep. Nou is dit ons met ons blink medaljes en swart baadjies wat òf soos sakke aan ons hang of ‘n hele paar nommers te knap geword het en ons oë wat al hoe dowwer word wat maar gister en eergister se stories met mekaar deel, want ons opvolgers veg ander oorloë.

Dis amper soos die eiers wat destyds oorblou gekook geraak het omdat iemand vergeet het om die uurglasie dop te hou.

“GONE FISHIN’ “

110320 1 005

Nadat ons jaarlikse Februarie / Maart vakansieplanne in die wiele gery was deur die aankoms van die tweede seuntjie tussen die vyf kleinkinders, het ons nou die vooruitsig van tien dae se leef-teen-ons-eie-tempo’s, maak-wat-ons-wil en skaamteloos muf-bymekaar-maak.

Ons gaan dit met oorgawe doen.

DIE DIEP GESPREK

dialoog

Met twee van ons aan diè kant van die konferensietafel en twee van hulle regoor ons, begin die dieper gesprek. Hy, wat teenoor my sit, het die afspraak geïnisieer en aanbeveel dat ons met sy ouer kollega gesels. Sy is ‘n kenner op haar gebied wat haar stellings met gefundeerde navorsing kan staaf.

Dit was my eerste besoek aan die geelbaksteengebou in een van Melville se boomryke systrate. Vir hom het ek tydens twee vorige geleenthede ontmoet, maar sy was vir my ‘n vreemdeling. Ons twee kan dalk dieselfde jaar se kallers wees, maar van meet af aan is dit duidelik dat haar paadjie tot hier en my paadjie heel waarskynlik van kindsbeen af in teenoorgestelde windrigtings koers ingeslaan het.

Ek sou haar onder ander omstandighede heel waarskynlik as “Liberal English Establishment” kon beskryf.

Met die wegtrek gebruik sy begrippe wat my dadelik laat dink. “White anting” val vreemd op my oor, maar ek kry nie ‘n gaping om my interpretasie met haar bedoeling te spoor nie. Nogtans is die trant van haar redenasie en uiteensetting van so aard, dat “white anting” geleidelik met “interne wegkalwing” gelyk gestel kan word.

My premise van liberalisme in die konteks van die twintigste eeu, word geleidelik in eietydse trurat gedwing. Toe haar kollega in die verbygaan opmerk “If Transnet was running the German railways in 1939, the Second World War would’ve lasted but a few weeks” begin ek toenemend begryp dat die uiteenlopendheid van ons jeugdige vertrekpunte deur tyd en realiteit beproef was en dat die hedendaagse verloop van ons lotsgebondenheid ‘n onvoorsiene alliansie tot gevolg het.

Ons gesels oor “the lifespan of liberation ideology”.

“Reason within revolution”. Of die afwesigheid daarvan.

Die verskil tussen “concern” en “understanding”.

“Toeing the line”, en hoe toegeverfde hoeke in die praktyk onverwags realiseer.

Hoe die kragtigste ideologie deur onvermoë en korrupsie geneutraliseer word. En hoe dit opsigself ‘n bepalende bondgenoot kan wees.

En hoe ‘n mens dan stroomop kan beur.

Toe ons groet, daar wegstap en die laatmiddagspitsverkeer op die Nuwe Pad noordwaarts aandurf, besef ek dat verassende bondgenote uit onverwagte oorde te voorskyn tree.

Al is dit dalk ook net ‘n geval van my vyand se vyand wat my vriend word.

MT PAUL

Mt Paul

Met die onlangse aflaai van Google Earth op my rekenaar het ek op bykans vergete reise terug in tyd gegaan – die huis waarin ek gebore was, die polisiehuis naby die spruit, die houtkaserne op Malgaskop waar ek my eerste jaar by die Akademie begin het, ons eerste eie-huis in die suidelike deel van Potchefstroom wat ons R13,400 gekos het, ons gemeubileerde staatshuis op die rand van Oshakati wat sedertdien deur ‘n plattelandse metropool ingesluk is, en so aan.

Reise terug in tyd wat op onverklaarbare wyse vergete herinneringe losknoop met die aanskoue van die foto uit die ruimte van die eens-bekende omgewings wat ek as my eie geag het.

Google Earth – ‘n wonderlike hulpmiddel wat my laat wonder as die gratis weergawe so gebruikersvriendelik is, hoeveel te meer bied die gesofistikeerde weergawe wat vir intelligensiedoeleindes gebruik word, nie aan geoefende gebruikers nie?

Maar dis ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

In my kuberswerftog kom ek uit op Mt Paul, die spogplaas van die Badenhorst’e effens oos van die prominente koppie met dieselfde naam.Selfs op die onlangse satellietfoto, is dit asof die tyd stilgestaan het. Dieselfde laan Bloekombome waar ons met die ou Falke windbuks bosduiwe geskiet het, die opstal met sy sonnige stoep waarin daar in die winter ‘n hele Sondag na kerk omgekuier was, die klipkraal waar Oom Piet se nuwe Brahman-bul bewys het dat ‘n vyfvoet klipmuur nie ‘n bul van formaat kan binnehou nie, die (nou droë) plaasdam in die vlakkerige lopie waar ons geel klei uitgegrawe het vir kleilat of waarmee ons gebreklike klei-osse gevorm het.

Op Google Earth se foto kan ek nie sien of daar lewe op die werf of in die klipkraal is nie. In die bruin Oos-Vrystaatse wintergras lyk alles verlate en stil – so al asof die yslike groot dam oorkant die grondpad nie net die grootste gedeelte van die plaas ingesluk het nie, maar ook die oormaat van lewe wat ek destyds daar beleef het.

Hoe wens ek nie dat ek voor die rekenaarskerm van een of ander Amerikaanse vertroulike instelling kan sit en dan die definisie van die beeld so opdraai dat ek Oom Piet en Ta’ Hester se glimlaggende gesigte wat na bo kyk asof hulle weet hulle word afgeneem, kan sien nie.

Maar my verstand sê vir my dat met die beste tegnologie onder die son, dit wat was, nie meer kan wees nie.

Wanneer ek voor my eie rekenaarskerm sit en Google Earth inspan op my persoonlike reise, is dit net ek wat verstaan, en dan ook maar net ten dele.

En onthou.

NASKRIF:

Ek het nagelaat om te sê – Oom Piet was die plaaslike Jagmeester van Oranjejag, die organisasie wat destyds die skaapboere in die Vrystaat gehelp het om van lastige Jakkalse ontslae te raak. Gevolglik was die distrik se trop Jakkalshonde in ‘n groterige draadkampie op Mt Paul gehuisves. Na wat ek destyds verstaan het, was die aanteel in die trop streng beheer en moes die klein hondjies wat oortollig was, van kant gemaak word. Onder geen omstandighede was hy toegelaat om jong hondjies weg te gee of te verkoop nie. Tydens ‘n besoek aan Mt Paul het Oom Piet ons juis met ‘n lang gesig verwelkom – daar was vyf klein jakkalshondjies wat van kant gemaak moes word en daardie dag het hy doodeenvoudig nie die hart daarvoor gehad nie. Sonder om te huiwer het ek aangebied om hulle met sy dubbelloop .22 / 410 haelgeweer in die Bloekoms agter die klipkraal te gaan skiet, wat ek toe wel ook gedoen het. Tot vandag toe sal ek die uitdrukking op sy gesig, en ook op my pa s’n, nooit vergeet toe ek met die geweer in die hand weggestap en selfvoldaan oor my skouer teruggeloer het nie.

 

Miskien is dit waaroor Mt Paul se storie èintlik gaan………..

DIE GROOT DEBAT(-TE)

debat

Kies maar ‘n onderwerp – geloof, politiek, sport, kulturtele identiteit, taal, opvoeding, misdaad en korrupsie, internasionale betrekkinge, militêre missies in Midde Afrika – en sonder ‘n oorwoë gesoek sal teenstrydige standpunte uitgelok word . Boonop sal daardie uiteenlopende standpunte so heftig aangevoer en verdedig word, dat die betekenis van “debat” geheel en al verlore gaan aangesien die subjektiewe (en dikwels emosionele) eie-opinie teen wil en dank moet seëvier.

So heeltemaal anders as toe ons op hoërskool standpunt oor geslagsgemengde skole al dan nie, die behoud imperiale of implimentering van desimale stelsels, provinsialisme se voor- en nadele, moet Rhodesië ‘n vyfde provinsie word of nie en diesulke temas moes inneem en geordend daaroor gedebateer het. Want toe was daar reëls.

Nou is die verskille feller. Die tyd self het ons omstandighede so gelouter dat ons hedendaagse debatte veel dieper as net die oppervlakte van persepsuele gewaande opinie sny.

As prof Lina Spies te kenne gee dat sy die NG Kerk verlaat, zoem die briewekolomme in die dagpers. Maar interessanter as die briewe se strekkings, is die kommentare wat deur mense wat intelligenter wil voorkom, onder aan die betrokke berig of brief bygevoeg word. Die debat tussen kommentators is dikwels feller as die steun of teenstand met die brief- of berigskrywer. Net soos bloggers en die FB’ers en die Twieters, is die kommentators ‘n gedugte spulletjie wat dag vir dag hul oor-bekende standpunte inneem en te velde trek teen diegene wie se insig volgens die eiewyse oordeel ver te kort skiet.

Daagliks maak ek my draai tussen die elektroniese mediaberigte en meeste van die tyd neem ek in die verbygaan ook die opinies van bloggers, FB’ers, Twieters en die selfaangestelde kommentators in want ook daarin word soms stof tot nadenke opgespoor.

Soos onlangs toe ek toevallig moes ontdek dat ‘n kuberkennis met wie ek sonder enige agterdog goed oor die weg gekom het, beginselstandpunte handhaaf wat direk en indringend met my diepste oortuiging in konflik is. Is ‘n debat dan die logiese uitweg? Dit wat die Skrif ons nog altyd voorhou as die Christelike weg?

Vir iemand anders sou dit seker die aangewese optrede gewees het, maar te midde van my groeiende oortuiging dat die debatskuns sy waarde sowel as sy essensie verloor het, het ek die eietydse elektroniese weg gevolg – die “delete” sleutel is gebruik om die waarskynlikheid van onversoenbare verskil uit die weg te ruim. Die “friend”-status is summier gekanselleer.

Finis.

Ek moet dalk meer toepassing vir die “delete”-sleutel soek.

IN DIE HELDER LIG

130311 001

Elke huis het vensters waardeur lug en lig die binneruime kan binnedring. So gewoond raak ek daaraan, dat ek dit, tipies menslik, met verloop van tyd as vanselfsprekend aanvaar.

Dan kom die dag wanneer ek skielik besef die sakkende son skyn loodreg uit die weste by die balkondeur in waar ek dit die minste verwag.

Dalk is my onoplettendheid daaraan toe te skryf dat dit my met die draai van die seisoen nie aldag opval nie, dalk is dit omdat ek so daaraan gewoond geraak het dat ek dit nie meer raaksien nie of dalk is dit omdat ek soms nie in die binnekamer kom wanneer die lig alles verlig nie.

Hoe dit ookal sy, as die lig net règ val, sien ek dinge wat ek nie gedink het meer bestaan nie.